Alleen kan jy boer. Alleen kan jy nie landbou groei nie
AgriSA het sy 2026-kongres gebruik om ’n gekonsolideerde mandaat vir optrede uiteen te sit oor die vyf beleidsareas van sy Sentrums van Uitnemendheid (SvU’s) wat van kritieke belang is vir die toekoms van die Suid-Afrikaanse landbou: grond en ontwikkeling, natuurlike hulpbronne, arbeid, landelike veiligheid, en ekonomie en handel.
Onder die tema “Die pad is duidelik” het AgriSA beklemtoon dat die volgende fase van landbougroei nie bloot van beter beleid afhanklik sal wees nie, maar ook van sterker instellings, duideliker aanspreeklikheid en doeltreffender samewerking tussen die regering, georganiseerde landbou, kommoditeitsorganisasies, die sakegemeenskap en boere.
“Jy kan op jou eie boer, maar jy kan nie op jou eie landbou groei nie,” het AgriSA se president, Willem de Chavonnes Vrugt, gesê.
Die mandaat weerspieël die werklikhede waarmee produsente op grondvlak te kampe het. Grondhervorming moet verder strek as bloot die oordrag van grond en moet lei tot kommersieel lewensvatbare ondernemings, ondersteun deur veilige eiendomsreg, geloofwaardige seleksie van begunstigdes, voldoende finansiering en doeltreffende ondersteuning ná vestiging. Waterbestuur en -infrastruktuur verg dringende aandag, tesame met klimaat-aanpassing, die beskerming van biodiversiteit en volhoubare produksiepraktyke.
Wat arbeid betref, het AgriSA die landbou se rol as ’n belangrike werkgewer in landelike gebiede beklemtoon en hom beroep op ’n meer voorspelbare raamwerk vir loonvasstelling, ’n toegewyde sektor, hervorming van landboukolleges, beter belyning van befondsing vir vaardigheidsontwikkeling en praktiese oplossings vir landelike behuising en vervoer.
Landelike veiligheid is nie bloot as ’n maatskaplike kwessie uitgelig nie, maar ook as ’n ekonomiese en beleggingskwessie. AgriSA het ’n beroep gedoen op sterker polisiëring, intelligensiegedrewe wetstoepassing, formele samewerking tussen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en georganiseerde landbou, asook praktiese meganismes wat landelike gemeenskappe in staat stel om hul eie veiligheid te verbeter.
Die mandaat vir ekonomie en handel fokus op die mededingendheid van die Suid-Afrikaanse landbou. Prioriteite sluit in die hervorming van hawens en spoorweë, landelike paaie, energiepryse, selfpwekking, diversifisering van handel, biosekuriteit, breëbandtoegang in landelike gebiede en beleidsekerheid ten opsigte van belasting en investering.
AgriSA se president, Willem de Chavonnes Vrugt, het gesê die kernuitdaging is nie meer bloot om te vra wat die regering behoort te doen nie, maar om te bepaal watter instellings die beste geposisioneer is om spesifieke funksies te verrig en hoe hierdie vermoëns gekoördineer kan word.
Die Suid-Afrikaanse landbou funksioneer toenemend binne ’n netwerk van openbare instellings, kommoditeitsorganisasies, ondernemings, provinsiale strukture en boere. Volgens hom is AgriSA en sy nasionale vennote se rol om hierdie verskillende vlakke met mekaar te verbind, deur bewyse en praktyk-ervaring vanaf plaasvlak na nasionale beleidsvorming te neem, nasionale besluite terug te vertaal na die waardekettings en die vennootskappe te bou wat vir uitvoering nodig is.
Die kongres onderskryf daarom uitvoering sentraal tot AgriSA se werksaamhede vir die tydperk wat voorlê.
Die vyf mandate gee ons die inhoud. Ons netwerk gee ons die reikwydte. Ons vennootskappe gee ons die hefboomkrag. Wat nou saak maak, is uitvoering deur die groter netwerk van organisasies wat ’n impak op landbou het. Die pad is duidelik.
Navrae:
Willem de Chavonnes Vrugt, AgriSA President, 082 946 2303
Johann Kotzé, AgriSA se uitvoerende hoof, 079 523 5767